Die Eendplasse se Kampplannetjies 1 – 10

Deur Thea Swanepoel – Admin Sleepsaamgroep
KAMPPLANNETJIE # 1
Ek glo die lewe is te kort vir cheap rooiwyn. En uit die aard van die saak wil ek ook nie my Johnny Walker Blue uit ‘n plastiekglas drink wanneer ek kamp nie.

Dus gaan daar ‘n paar glas glase saam; wat nie in die Splash se buitekombuis pas nie. Om hulle heel te hou op SA se paaie vol potholes, rondloper bokke en spoedhobbels, het ek vir die glase truitjies gehekel. Sover het selfs Dinokeng se sinkplaatpad geen glas-sterftes veroorsaak nie

KAMPPLANNETJIE #2
Ek gaan snuffel graag by plastiek- en ander afslag winkels soos Crazy Store as ek ‘n kampdilemma het (Kampplannetjies is die oplossing vir die meeste Kampdilemmas).

Een so ‘n voorbeeld is hangplek vir die baadjie of jassie wat jy nodig het langs die laatnag winter kampvuur. Ons kap nie gate en hakke in die karavaan as ons nie doodseker is dat dit gaan werk nie, so dit was tyd vir plan B. Hierdie hakie pas oor die Splash se kasdeur sodat jy iets aan hom kan hang – baadjie, voorskoot, braaitang, sleutels …

As ons oppak, haal ek hom af en bêre hom in die kas vir volgende keer se gebruik.

KAMPPLANNETJIE #3
Nou die groot oranje bottel braaisout gaan ten spyte van die gewigsdrama steeds saam, maar ek het besluit om slegs klein hoeveelhede – vir ingeval en as – in te pak van die meer obskure kruie en speserye. Soos kaneel, kerrie … of selfs pietersielie.

Ek het regte egte antieke speserye ontwerpe gevat en aangepas om vir my ma, my sussie en ook myself elk ‘n pillehouertjie te versier – dit is op die houers vas ge’Modge Podge’. Die idee het ek op daardie wonderlike plek genaamd Pinterest gekry.

Ek het later van tyd die speserye in klein sakkies van 5ml elk verseël met ‘n vacuumsealer omdat die pillehouer nie lugdig seël nie en veral by die see was dit ‘n krisis. Ek hervul maar dan net soos ons dit gebruik.

KAMPPLANNETJIE #4
Vandag se Plannetjie het moontlik ‘n baie beperkte toepassing.
Want as daar nie mini-mense van onder 1.2 m hoog saam met jou kamp nie, gaan jy moontlik nie eers bewus wees van die probleem nie.

Die Sprite karavane se buite kombuis is die hoof rede waarom ons ‘n Splash gekies het. Maar soos ons vinnig agter gekom het, is die hoeke van die kombuisblad bitter gevaarlik vir klein kindertjies – ek het ‘n teorie dat dit totaal onsigbaar is vir mini-mense. Ons het eers pool noodles opgesny en op die hoeke vasgesit, maar dit het na lekker speelgoed gelyk, en die kids het dit heeltyd afgehaal. En die voorkop-bloukolle het net meer geraak (en so ook die vrees dat ons uit die karavaanpark geskop gaan word omdat ons kind alewig huil).

So is die kombuis bumper gebore – ‘n strook materiaal wat opgestop is met spons en dan met ‘n toutjie agter die klap vasmaak.
As ons kamp opslaan, is dit die eerste item wat ek uithaal … happy campers gewaarborg!

KAMPPLANNETJIE # 5
Die een ‘design flaw’ van die Splash is (in my opinie) die waterkan in die neuskas. Om hom uit te haal om water in te gooi is net glad nie prakties nie, dus moet mens noodgedwonge maar ‘n tuinslang saampiekel.

Ons het ‘n hele paar tuinslang modelle beproef, met die idee dat dit so min spasie moontlik moet opvat. Die eerste was ‘n materiaal gedoente wat verander het in ‘n nat toutjie met ‘n modder buitelaag toe ons hom aan die Eiland se stof voorgestel het. Nommer twee was so ‘n ‘coil’erige dingetjie wat, tenspyte van wat geadverteer is, altyd gekoek en verstrengel geraak het. Op die ou end het ons die gewone propperse groen model wat in almal se tuine rondlê aangeskaf.

Maar die ding was groot en lomp en het om een of ander rede altyd die hele neuskas vol gelê.

Ek het op die internet gaan snuffel wat die beste manier sou wees om hom te stoor en afgekom op ‘n sak wat hulle op ebay verkoop.
Ek het my eie weergawe daarvan gemaak – myne het ‘n handvatsel en ook ‘n gaas sakkie onder in die middel vir al die bybehore en ‘me-gafters’ (soos koppelstukke vir albei groottes krane en ‘n spuitkop as die Jeep dalk afgespuit moet word).

Die materiaal wat ek gebruik het is ook waterdig so as daar nog bietjie water in die tuinslang was loop dit ten minste nie in die neuskas uit nie.

KAMPPLANNETJIE # 6
Ek dink die meeste kamp mammies voel sterk oor ‘n tafeldoek; ek persoonlik kan nie met kaal tafels kamp nie. Terwyl die kids nog klein is gebruik ons maar die plastiek soort wat maklik skoon vee; maar ek droom om eendag regte materiaal tafeldoeke te gebruik wat nie aan jou elmboë vasklou nie. 😀

My tafeldoeke knyp aan die tafel vas met ‘bulldog clips’ om te keer dat die wind hul afwaai (of een van die laaities dit skeeftrek). Dis lig, goedkoop en werk baie beter as enige fancy gewiggie-gedoente.

KAMPPLANNETJIE # 7
As mens 4 mense is en vir redelike lang tye kamp, kan spasie nogal ‘n probleem raak – selfs in die grootste beste karavaan. Ons kamp graag Desembers 3 – 4 weke by die see, en dis juis dan waar dit ‘n probleem raak.

Maar kyk net bietjie rond … daar is baie maal spasie wat nie optimaal benut word nie – in ons geval, die ‘muur’ tussen die yskas en die voorste bed waar my laaities slaap in die Splash.

Ek het vir hul elkeen ‘n snuistery sakkie gemaak om by hulle koppe te hang. My jongste dra nog doek in die nag en my oudste gaan nerens in die donker nie, so hulle sakkies is ideaal vir die doeke en flitse wat mens nie in die donker in ‘n kas wil soek nie.

Dis nie gemaak vir swaar items nie maar bied handige ekstra pakplek … en dit help om die karavaan ‘clutter-free’ te hou.

**** (Byvoeging: Ek het onlangs vir myself ‘n kleiner weergawe van hulle sakkies gemaak waarin my bril gebere word in die nag – veilig en snoesig, maar steeds naby!)

KAMPPLANNETJIE # 8
Ek het al genoem dat ek graag in Crazy Store gaan snuffel vir goeters vir die karavaan. Maar daar is nog ‘n ‘mal’ winkel wat baie help, genaamd Crazy Plastics.

Die enigste manier om die karavaankaste netjies te hou is om alles in houers te pak. As jy eksta oulik is, kan jy hulle selfs merk sodat selfs ouboet en pappa alles sal kan opspoor.

Ons Splash se boonste hoekkas is die tools, spares en megafters kas; wat beteken dis baie klein los goedjies. Ons hou alles mooi bymekaar in plastiek mandjies.

My koskas her ook vlak plastiek houers waarin ek alles pak sodat dit nie rondval en rondskuif met die ry nie; en kan dan uitgetrek word soos -n laai sodat jy kan sien wat heel agter gepak is.(maar dis dalk ‘n aparte nuwe kampplannetjie!)

KAMPPLANNETJIE # 9
In Kampplannetjie no 4 het ek vir julle my kombuis buffer gewys wat keer dat kleiner kampeerders harsingskudding opdoen.

Onder die buffer hang nog ‘n plannetjie – ons mini hangmat.

Die hangmat is uit tou gehekel met netsteek; maar ‘n gewone stuk materiaal behoort net so goed te werk. Dit haak met die gewone wit plastiek ‘c-clips’ wat jy by enige Campworld kan koop aan die kombuis blad vas.

Ons probeer on nie die hangmat te swaar te laai nie – dis ideaal vir items wat jy vinnig wil bykom soos hoede, sonskerm, muskietafweermiddel of die nuutste kamp tydskrif.

As ons klaar gekamp het vou hy lekker klein op en word in ‘n kas gebêre – minder werk as tafels, laaikassies of ander pakplek.

KAMPPLANNETJIE #10
Aangesien die nuwe yskaste nie meer slotmeganismes het nie, is vele slepers al met stukkende eiers (of erger – gemorsde bier!) begroet na die yskasdeur oop gegaan het tydens die rit.

Dis niks cool as jy na 8 of meer ure op die pad eers moet skoonmaak voor jy kan kamp opslaan nie.

‘n Bekostigbare, netjiese oplossing daarvoor is ‘n yskas ‘baby lock’ – wat jy by enige babawinkel sal opspoor.

Daar is heelwat modelle op die mark maar ons vind dat hierdie ontwerp ‘n regte staatmaker is.

Maak net seker jy weet hoe om hom oop te maak voor jy vertrek …

KAMPPLANNETJIES 11 – 20 | KAMPPLANNETJIES 21 – 30 | KAMPPLANNETJIES 31 en 32