Limpopo

Limpopo is ‘n provinsie in Suid-Afrika. Die hoofstad is Polokwane (voorheen Pietersburg). Die provinsie kry sy naam van die Limpoporivier wat die mees noordelike rivier in Suid-Afrika is en die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe vorm.

Limpopo het vroeër as die Noordelike Provinsie en voor 1994 as Noord-Transvaal bekend gestaan. Sedert 1994 sluit dit ook die voormalige tuislande Venda, Gazankulu en Lebowa in.

Belangrike plekke is Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Musina, Phalaborwa, Mokopane (Potgietersrus), Thabazimbi en Bela Bela (Warmbad).

Limpopo word begrens deur Zimbabwe in die noorde, Botswana in die weste en Mosambiek in die ooste. Aan die suidekant van die provinsie lê die Suid-Afrikaanse provinsies Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Die Limpoporivier vorm Limpopo se grense met Botswana en Zimbabwe. Die provinsie het verskeie groot berge, met die Waterberg-, Strydpoortberg- en Drakensbergreeks in die suide en die Soutpansbergreeks in die noorde. Die subtropiese noorde is bosveld met kremetartbome, terwyl die weste meestal deur grasvlaktes gekenmerk word.