KwaZulu-Natal

Die provinsie KwaZulu-Natal of KwaZoeloe-Natal (uitgespreek /kwɑːˌzuːluː nəˈtɑːl/) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Pietermaritzburg en Durban is die grootste stad.

KwaZoeloe-Natal lê aan die oostekant van Suid-Afrika aan die Indiese Oseaan. Aan die suidekant lê die Oos-Kaap, wes lê Lesotho en die Vrystaat, terwyl die provinsie Mpumalanga en die lande Mosambiek en Swaziland aan die noordekant geleë is. KwaZoeloe-Natal word vanweë sy natuurskoon die “Tuinprovinsie” genoem. Daar is ‘n subtropiese kusgebied (‘n laaggeleë streek langs die Indiese Oseaan), met uitgestrekte vlaktes in die middel van die provinsie. Die majestueuse Drakensbergreeks troon in die weste en die Lebomboberge in die verre noorde.

Durban is KwaZulu-Natal se grootste stad. Ander belangrike plekke is onder meer Richardsbaai, Dundee, Ladysmith, Newcastle (‘n staal- en steenkoolsentrum), Port Shepstone, Estcourt en Vryheid.