Wes-Kaap

Die Wes-Kaap (Engels: Western Cape, Xhosa: Ntshona-Koloni) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad en grootste nedersetting is Kaapstad. Dit het in 1994 ‘n afsonderlike provinsie geword toe die ou Kaapprovinsie in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap verdeel is.

Kaapstad is ook Suid-Afrika se moederstad en wetgewende hoofstad en huisves die imposante Parlementsgebou. Die Kaapstadse hawe (vroeër Tafelbaaihawe) is die naasbesigste hawe in die land (ná Durban).

Ander belangrike plekke is onder meer Stellenbosch, die Paarl, Beaufort-Wes, George, Oudtshoorn, Saldanha, Vredenburg, Worcester, Malmesbury en Vredendal.

Die provinsie met ‘n oppervlakte van 129 390 vierkante kilometer lê in die suidweste van die land, met die Atlantiese Oseaan aan sy westekant en die Indiese Oseaan in die suide. Die Noord- en Oos-Kaap lê onderskeidelik noord en oos. Die gebied om Kaapstad is ‘n winterreëngebied, terwyl die suidelike deel langs die Indiese Oseaan die hele jaar deur reën ry. ‘n Deel van die barre Groot Karoo lê in die Wes-Kaapse binneland. ‘n Ketting van bergreekse, waaronder die Sederberg, Hexrivierberge, die Outeniekwaberge en die Tsitsikammaberge skei die kusgebiede en die binneland.