Gauteng

Gauteng is die provinsie van Suid-Afrika met die hoogste bevolkingskonsentrasie met ‘n sterk handel- en nywerheidsontwikkeling. Die vernaamste stede is Pretoria en Johannesburg.

Gauteng lê sowat 1740 m bokant seespieël en grotendeels op die Hoëveldse plato. Dit word deur vier ander provinsies omring: Noordwes aan die westekant, Limpopo in die noorde, Mpumalanga aan die oostekant en die Vrystaat in die suide. Die Witwatersrand met sy baie rante en heuwels, wat nagenoeg 80 km ver deur die middel van die provinsie loop, is die goudstreek met Johannesburg as kern. Geologies vorm die Witwatersrand die waterskeiding vir die Vaalrivier en die Limpopo, maar Gauteng het geen groot riviere buiten die Vaal nie. Soos in baie dele van Suid-Afrika is droogtes nie ongewoon nie, en die provinsie is in ‘n groot mate van die Vaaldam afhanklik vir betroubare watervoorsiening.

Die provinsiale hoofstad Johannesburg is die grootste stad in Suid-Afrika. Pretoria, sowat 50 km noord van Johannesburg, is Suid-Afrika se administratiewe hoofstad. Nog belangrike plekke is Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Centurion (deel van Tshwane Metropool (Pretoria)), Germiston, Heidelberg, Kemptonpark, Krugersdorp, Midrand, Randburg, Roodepoort, Springs, Soweto (deel van Johannesburg), Vanderbijlpark en Vereeniging.