Die Eendplasse se Kampplannetjies 21 – 30

Deur Thea Swanepoel Sleepsaam Groep Admin
KAMPPLANNETJIE #21
Nog ‘n plannetjie wat handel oor die gebruik van poolnoodles om kamp makliker te maak.

Ek weet baie mense gebruik dit en dis nie nuut nie, maar ek wys sommer vir die groentjie kampeerders hoe jy super-cool en ervare kan lyk hierdie kersseisoen.

Sny die pool noodle so lank as wat benodig word met ‘n broodmes, en sny dan ‘n gleuf in die lengte ook om dit oor die tou te gly.

Vinnig raak jou toue sigbaar en bly jou tone gespaar teen die tentpen-euwel!

KAMPPLANNETJIE # 22
Wasgoed kan nogal ‘n storie raak – veral tydens lang vakansies. Ons het al ‘n hele paar opsies probeer; insluitend om dit onder die eiland bed in te boender of in ‘n smous-sak in die tent te hou. Effektief, maar nie ideaal nie.

Ek het toe die mates geneem van die spasie onder die Splash se tweede bed by die deut; en vir my twee plat kratte gekry wat agter mekaar daar kan inpas. Daardie spasie word ná ons uitgepak het nie meer benut nie.

Ek het toe sakke gemaak van katoen wat in die kratte pas. Vuil klere word dan daarin gegooi, en wanneer dit vol is, trek ons die sakke se toutjies toe, haal dit uit die krat en vat dit netso na die wassery. Die kratte werk ook lekker om die skoon klere op te vou.

Die katoen sakke en kratte se gate maak seker dat daar geen reuke is nie, en dat niks ook muf soos ons al oorgekom het toe ons plastiek smous-sakke gebruik het nie.

Soms gebruik ons die agterste krat om die ekstra ‘net ingeval’ warm klere in te bêre sodat die kaste minder vol is.

(As ‘n kantnota wil ek sê dat wanneer ons ry, pak ons enige los kruideniersware of kinderspeelgoed in die kratte en dan bly dit mooi netjies op hul plek)

KAMPPLANNETJIE #23
Erens in ‘n karavaanpark; dalk langs die Vaalrivier …

Het pappa pas die vuur klaar gepak. Dit lyk vanaand na reën; en hy het besluit om “n paar brikette te gebruik om seker te maak die kinders eet darem voor dit uitsak.

Ingenome stap hy na mamma se skottegoedopwas kontrepsie langs die wa om sy pikswart hande gou af te spoel sodat hy die hoender kan gaan smeer met daai nuwe rub goeters wat hulle by Woolies gekoop het …

… net om te sien hoe gluur mamma hom aan van agter die tent se gaas vensters …

Hy verander vinnig van rigting en kies koers op ablusieblok toe; en loer so uit die hoek van sy oog na waar mamma steeds botstil staan soos Lot se vrou; en wonder of hy mamma gefool het om te dink dit was van die begin af sy plan …

Bewaar die vrede met ‘n seepsakkie wat sommer by die kraan opgehang kan word (en buurman Frikkie van Sasolburg se dinges ook kan red).

Sny ‘n lemoensakkie kleiner en werk die onderpunt toe of knoop dit sommer. Plaas ‘n koekie seep in die sakkie en hang dit by die kraan. Die idee is om jou hande te was met die seep steeds in die sakkie, sodat jy jou hande mooi skoon kan skuur met die growwe tekstuur van die sakkie.

KAMPPLANNETJIE #24
Kamp gee ‘n mens die geleentheid om weg te breek van die allerdaagse; om dinge te doen wat anders is as by die huis … om buite die boks te dink.

Alhoewel daar niks verkeerd is om die blink plastiek kersboom saam te neem op vakansie nie, bied ‘n Kersvakansie by die see ‘n mens die unieke geleendheid om tydens laaaang drenteltogte op die strand allerande skulpe, dryfhout, sponse en plante op te tel.

Meer belangrik: dit hou die kinders besig.

Dis ‘n bonus as die skulpe gebreek is boonop, want dit maak dit nog makliker om ‘n toutjie vas te heg waaraan dit kan hang.

Voeg ‘n stringetjie kersliggies by, en jy het ‘n bobaas kersboom waarop al jou bure jaloers gaan wees.

As daar nie ‘n handige boom op jou staanplek is om jou ornamente aan te hang nie, werk ‘n paal, muur of plank ewe goed … dink net buite die boks!

KAMPPLANNETJIE #25
Die pakplek agter mens se kop is baie handig in die Splash wat nie bedkassie-spasie het vir ons met brille en ringe en leesboeke en allerande slaaptyd goete nie.

Maar o wee; ek het eenmaal my trouring daar agter ingesit voor slaaptyd en my morsdood gesukkel om dit weer te vind! Dit het al die tyd vasgehaak in die spasie agter die ‘kopstuk’ en dit het my geinspireer om weereens met my maatband af te sit na die naaste plastiekwinkel.

Ek het plastiekhouers opgespoor wat bedoel is om in jou yskasdeur te pas; maar hulle werk perfek in die kopstuk spasie vir al my los goeters sodat ek die houer kan uitlig en mooi kyk waar iets is eerder as om onder die gordyn rond te probeer voel-voel.

Nou is ons stuff* altyd bereikbaar!
*brille|boeke|juweliersware|ringe|snesies|pille|selfone …. ens …

KAMPPLANNETJIE # 26
Ons het ons karavaan tweedehands gekoop met die opsionele drankkabinet wat aan die karavaandeur vas is. Dit was nooit vir ons prakties dat die drankies en glase daar gestoor word nie; ons gunsteling ‘poison’ bottels het nie lekker in die gate gepas nie en ons was bekommerd oor die hoeveelheid gewig van 4 vol bottels drank wat so aan die deur hang.

Na ‘n lang ruk se kopkrap en selfs oorweeg om die kassie te verwyder, besef ons dat ons nie ‘n lekker handige plek het om die grootste euwels van kamp te bestry nie: die muskiete in die dag en die son in die dag.

Ons het toe ons kassie effens aangepas sodat ons die sonbrandroom en gogga-verdryf-goeters daar kan stoor, sodat dit altyd byderhand is in geval van nood – beide in die tent of in die karavaan.

Die veranderinge is van ‘n tydelike aard sodat wanneer ons eendag sou besluit om ons wa te verkoop, sal die nuwe eienaar kan kies of hy liewer sy drankies daar wil stoor of nie.

KAMPPLANNETJIE # 27
Ek los gewoontlik ‘n paar goedjies in die karavaan vir gebruik deur die jaar. Ons karavaan word nie by ons huis gestoor nie so ons probeer hom ‘kampeer gereed’ hou.

Die goedjies is bv ‘n bietjie mieliemeel, rys of stampmielies … dalk ‘n ekstra suikertjie of sout.

Dit sou nie moontlik gewees het sonder die speelding wat ek laasjaar aangeskaf het nie: ‘n vacuum sealer. Deur die lug uit te suig en die sakkies te seël weet ek ek kan hiedie items langer in die karavaan hou en miet is nie moontlik nie; vog kan ook nie inkom nie. Ek vervang wel als wat nie gebruik is nie 1 maal ‘n jaar.

Ek vacuum seal ook ander items om dit meer kompak te maak vir kamp: die ekstra badspons ingeval ‘n kind syne verloor, die kersliggies sodat hul nie verstrengel raak nie, selfs die ekstra stel lakens.

Mens kan ook handige morsvrye sakkies maak vir kleiner hoeveelhede met die vacuum sealer: slaaisous of marinade vir een maal se gebruik, of dalk plaatkoekiedeeg wat jy kan vries of dadelik gebruik deur net ‘n hoekie van die sakkie af te sny – no mess no fuss!

KAMPPLANNETJIE # 28
Daar is reeds ‘n driehoekvormige tentpen sak op die mark; maar soos gewoontlik was dít wat ek in die winkels koop, net nie presies wat ons nodig het nie. Die gewone reguit penne raak altyd verstrengel met die ‘L’ vormige penne en dan is dit ‘n reuse frustrasie vir pappa wat teen daai tyd al tussen sy tande deur praat.

Dus het ek my eie variasie gemaak. Die “L” vormige penne pas netjies daarin, en in die spasie langsaan is nóg twee sakkies wat sos ‘n legkaart inpas: een hou die gewone reguit penne, en die ander een die plat outjies (wat die grondseil vaspen) asook die koppies wat die pale vashou as die wind waai.

Hierdie sak was perfek tot ‘n paar maande gelede toe ons ons eerste Maxcons penne aangeskaf het. Nou gaan ek ‘n ander ontwerp moet uitdink wat die groot menere asook die ‘pole steadies’ ook kan akkommodeer!

KAMPPLANNETJIE # 29
Ek weet daar is mense wat glad nie kan kamp sonder ‘n ysmasjien nie; en vir julle sal hierdie kampplannetjie amper lasterlik wees. Ek beveel aan jul beweeg vinnig aan na die volgende post.

Ons darenteen is nie groot ys verbruikers nie; my man drink graag bier en dit bly gewoontlik koud genoeg in die yskas. Ek is lief vir my G&T per geleentheid en daarvoor sal ons sommer ys by ons kampdestinasie se winkeltjie koop.

So nou en dan tref ons ‘n plek sonder ‘n ysverskaffer.

Daarvoor tree plan B dan in werking – die plastiek ysies wat jy oor en oor kan vries en herverbruik. Mens koop hulle by my gunsteling kamp winkel – Crazy Store.

Hulle ontdooi nie soos gewone yspannetjies en mors dan water in die vrieskas nie; en as spasie ‘n probleem in die vrieshokkie is, druk ek hul een vir een in elke moontlike gaatjie tussen die vleispakkies in. Boonop werk dit goed om kleinboet se knop teen die kop te verdoof as hy van die swaai afgeval het, en verdun ook nie mens se drankie soos gewone ys nie.
Ek het altyd ‘n klompie in my vrieskas – net ingeval en as.

KAMPPLANNETJIE # 30
Ons is van daaaai mense wat gebottelde water drink wanneer ons kamp. Dis eenvoudig omdat ons nie kanse wil vat met die ‘local’ water en dan ‘n hele naweek bederf danksy ‘n gesin wat doodsiek is nie. Been there. Done that.

En so gebeur dit dan ook dat daar dan baie maal meer as een bottel by die kamp rondlê. Ons het Julie by die Eiland agter gekom dat as jy ‘n gat in die kant van die plastiekbottel sny, maak dit ‘n baie handige stoorplek met ‘n handvatsel boonop. Dit het lekker gewerk om elke kind se teken goed apart te hou en ook vir hul swemgoete. Ek het dit ook gebruik om my koskas te organiseer.
En na die tyd kon die bottels weer herwin word.

KAMPPLANNETJIES 1 – 10 | KAMPPLANNETJIES 11 – 20 | KAMPPLANNETJIES 31 en 32