Die Eendplasse se Kampplannetjies 11-20

Deur Thea Swanepoel Admin SleepSaam Groep
KAMPPLANNETJIE # 11
Ons 2006 Splash is die model met die groot eiland kas in die middel van die karavaan. Die ekstra pakplek is baie handig vir ons 4 – so ek verruil dit vir niks!

Ons het die ‘gewoonte’ aangeleer om al die badsakkies bo op hierdie (eetgerei?) kas te pak terwyl ons kamp. Omdat ons bang was dat die ekstra gewig skade sou veroorsaak, het ons ‘n ekstra stutpaaltjie agter by die wasbakkie aangebring.

Dit is sommer ‘n DIY Builder’s Warehouse model wat seker bedoel is vir ‘n kombuiskas; en was baie maklik en vinnig geinstalleer. Dis ekstra gemoedsrus … en nou kan die badsakkies maar daar bo bly staan!

KAMPPLANNETJIE # 12
Ek is ‘n groot aanhanger van die Sprite karavane se buite kombuis. Ons karavaan is effektief die slaapkamer; ons lééf buite die karavaan in die tent of onder die rally, afhangende van die weer en hoe lank ons staan.

Die ouer modelle se wasbak en stofie ontwerp het skottelgoed was ‘n effense pyn gemaak … om ‘n tafel nader te sleep om die nat goed op te pak was onprakties; om dit op die stoof te pak ‘n groot nee-nee.

Ek het toe ‘n skinkbord met ‘n geel absorbeer lappie op die stoof staangemaak; wat nogal goed gewerk het. Maar ek was nie heeltemal tevrede nie.

En toe ontdek ek ‘n glase-droograkkie in die plastiekwinkel wat nog beter werk, en presies op die stofie pas. Die water drup deur die gleuwe in die bak onder en sorg dat hierdie lui huisvrou byna nooit nodig het om skottelgoed af te droog nie.

KAMPPLANNETJIE #13
Ons is gelukkig genoeg om redelik goed reg te kom sonder krag; danksy ons sonpaneel & battery.

Ons het baie lekker LED ligte wat aan die tentpale vasknip – hulle kry krag by hella plugs aan die buitekant van die karavaan.

Ek weet daar is heelwat slim planne om die kragkabels netjies te hou. Soos bulldog clips, leêr binnegoed en selfs cable ties.
Maar haarknippe werk vir ons die heel beste! Die knippe pas mooi om die rondings van die tentpaal, en maak makliker oop en toe as bulldog clips. En as mamma se eie haarbybehore wegraak, kan sy sommer een by die tent leen.

KAMPPLANNETJIE #14
Oor die algemeen het ons Splash genoeg pakplek vir ons 4; maar wanneer dit by lang vakansies kom, is daar soms ‘n bietjie min plek vir klere. Dit is veral vir ons van toepassing vir winter kamp by Die Eiland waar ewe veel somers- en wintersklere nodig is.

Ek het gesien dat daar onbenutte spasie onder in die klere hangkassies is. Ek het met ‘n maatband plastiekwinkel toe gegaan vir houers; maar kon niks kry wat sal pas met daardie vreemde afmetings nie.

Ek het toe ‘n groot vel plastiek corriboard en mooi materiaal gaan koop, en my eie laaie gemaak; kompleet met trek-handvatsel.
Dit was vir my belangrik dat dit uit die kas getrek kan word om die inhoud te sien; eerder as om in houers te probeer grou onder of agter die klere wat hang.

Dit bied baie handige ekstra pakplek – veral vir onderklere, kouse en ander kleiner items. Dit het my minder as R100 gekos aan materiale en ‘n aand of twee se swoeg voor die naaldwerkmasjien om albei laaie te maak.

KAMPPLANNETJIE #15
Ons kan glad nie die eer vat vir hierdie “hands free” plannetjie nie. Inteendeel hoop ons om dalk die slim vorige eienaar van ons Splash op te spoor om hom/haar persoonlik te bedank!

Die ouer modelle Ci karavane se neuskaste kan nie self oop bly nie. Dus kan dit super irriterend raak as jy die waterkan se watervlak probeer skat in die donkerte terwyl jy hom volmaak én die blerrie klap oophou. Julle ken mos van.

Die vorige eienaar van ons karavaan het ‘n item van onskatbare waarde voor in die neuskas agtergelaat: ‘n gewone wit gordyn draadrek – die tipe wat antie Stienie in die 80’s gebruik het om haar kantgordyne op te hang. Die een hakie haak jy dan aan die neuskas-klap se rand, en die hakie aan die ander punt haak netjies aan die aluminum rand bo die venster.

Kyk ma, geen hande!

KAMPPLANNETJIE # 16
99% van die tyd is dit vir my niks lekker om kort te wees nie. Maar ek is een van min mense wat in die karavaan regop kan rondbeweeg sonder om die dak te lig. Dis baie handig as ek karavaan moet pak en manlief nie naby is om te help om die dak te lig nie.

Die nadeel is dat ek byna geen van die dakseil se flappe kan oopgemaak kry nie … veral die lang een bo die Splash se yskas en eetgerei kas.

Dit het my nie lank geneem om ‘n plannetjie daarvoor ook te beraam nie: ek het sommer ‘n toutjie aan die zip vasgemaak waarmee ek dit oop en toe trek.

Intussen het die toutjies ‘n see-tema versierings gekry en kan hulle loshaak ingeval hul iemand pla.

KAMPPLANNETJIE #17
Ons het almal dit al beleef: jy kom tydens jou kamp agter die foelie is op. Of dat jy jouself herinner om tog net ‘n ordentlike botteloopmaker aan te skaf. Jy is vas oortuig jy sal dit onthou tot jy by die huis of winkel kom ná jy gaan kamp het.

Dit gebeur gewoontlik nie.

‘n Notaboekie werk goed; maar ek moet erken ek het myne die heeltyd verloor. Of die kinders het daarin geteken.

Die magnetiese witbord teen ons karavaan yskas werk oortyd – op hom kom inkopielyste geskryf, notas om te onthou om ‘n gloeilamp te vervang, selfs briefies van gesinslede (“mamma ek het gaan swem”)

Dis handig omdat jy dit vinnig kan uitvee en die witbord pen is altyd byderhand en kry nie voete soos die bic wat pappa leen vir sy blokkiesraaisel nie.

KAMPPLANNETJIE #18
Pool noodles is van die handigste items om saam te vat as jy kamp. Daar is letterlik 101 gebruike daarvoor!

Dit werk baie goed om te keer dat die stormbande krrrrrr in sterk wind of skuur teen die tent. Sny sommer ‘n gleuf in die kant om dit oor die stormband te glip… dis die heel maklikste!

KAMPPLANNETJIE #19
Hierdie is nog ‘n plannetjie waarvoor ons geen eer kan kry nie – ons het dit in 2013 in ‘n gewilde kamp tydskrif raakgelees.

Omdat ons kids se ouderdomme nogal baie verskil het dit nie gewerk om hul op een bed te laat slaap nie.

Ons het ‘n Disc-o-bed aangeskaf en die pote met ‘square tubing’ verleng. Dié bedjies pas heel toevallig presies in die breedte van Swing en Splash karavane.

Dis ‘n baie stewige bedjie en as hy nie meer nodig is nie haal jy hom letterlik net uit – geen skade aan die karavaan nie.

KAMPPLANNETJIE # 20
Ons dink ten minste 2 keer voor ons iets permanent aanbring of verander in ons karavaan. Ons vind dat mens baie maal dink jy het die regte idee, net om na een of twee kampe agter te kom dat dit nie werk nie.

Hakies is baie handig; maar die verkeerde produk op die verkeerde plek kan soms ergenis beteken.

Indien jy nou wel besluit om hakies aan te bring vir jou sleutels of ‘n handdoekie by die wasbak, maak seker dat jy hakies van ‘n goeie gehalte aanskaf. Hier werk Crazy Store se goedkoop oplossings nie! (Ek belowe. Ek het dit probeer). Ons vind dat die produkte waarop die gewig wat die hakie kan dra op die verpakking aangedui is, die beste werk – Builders Warehouse en ander boubenodighede winkels hou gewoontlik ‘n wye verskeidenheid aan.

Ons is baie beindruk met die dra krag van hierdie hakies by ons wasbak – hulle is nou al meer as 3 jaar opgeplak en die haardroëer is redelik swaar maar hulle het nog glad nie losgetrek nie!

KAMPPLANNETJIES 1 – 10 | KAMPPLANNETJIES 21 – 30 | KAMPPLANNETJIES 31 en 32